Die lied van jong Suid-Afrika P. 224



1.
En hoor jy die magtige dreuning?
Oor die veld kom dit wyd gesweef:
Die lied van 'n volk se ontwaking
Wat harte laat sidder en beef
Van Kaapland tot bo in die Noorde
Rys dawerende luid die akkoorde:
Dit is die lied van Jong Suid-Afrika (ter)

2.
Die klop van die voortrekkerwawiel
Het die eeue se rus verstoor
Die klank van die voorlaaierskote
Het klowe en kranse gehoor
Die diere het stil staan en luister
Die bome het bewend gefluister:
Dit is die koms van Jong Suid-Afrika (ter)

3.
Waar songloed in glorie die berge
Oor hul fronsende voorhoof streel
Waar ruisende wind oor die vlaktes
Met grassaad kerjakker en speel
Die land wat ons vaders gekoop het
Met bloed tot ons eie gedoop het:
Dit is die land van Jong Suid-Afrika (ter)

4.
Die golwende veld is ons woning
En ons dak is die hemelblou
Die vryheid alleen is ons koning
Sy wagwoord is: "Handhaaf en bou"
Die stryd wat ons vaders begin het
Sal woed tot ons sterf of oorwin het
Dit is die eed van Jong Suid-Afrika (ter)